Wednesday, 12 November 2014

Mens het 3 dele wat die rigting bepaal van enige situasie: ‘n “Dinkertjie”, “‘n Wetertjie” en “Stupid”.

As mens kinders het leer mens baie dinge, van vreemde bronne en snaakse ervarings, maar een van die mees betekenisvolle lesse wat ek geleer het is maklik, vinnig en selfopenbarend…

Dit is dat, ‘n mens 3 dele het wat jou rigting of uitkoms van ‘n situasie bepaal.  Die 3 dele is al vele maal in die sielkunde oor gepraat en die heer Sigmund Freud, het dit genoem, die “Id”, die Ego, en die “Super Ego”.  Eckhart Tolle het weer drie aspekte genoem, die Ego, die pyn liggaam en dan is daar die Wese wat die waarheid weet. 

Ek aan die ander kant bou my teorie uit die wetenskaplike perspektief van “Storieman Omnibus 1, storie 1”.  In die storie praat die skrywer van ‘n “Wetertjie en ‘n Dinkertjie”.  Beide is baie belangrik en moet altyd saam werk om optimale prestasie te bereik. 
In ander woorde mens dink partykeer wat moet gedoen word en dan kom die “Wetertjie” in wat presies weet hoe om te doen wat die “Dinkertjie” sê.  Maar in baie gevalle werk die “Wetertjie” en die “Dinkertjie” nie saam nie en dan kom die ander aspek (wat nie in Storieman staan nie) voor. 

Die aspek of fase van die "Te-kort-aan-dink-of-weet- sindroom" is genaamd (in my eie woorde) “Stupid”.  Hierdie aspek kom voor as een of beide van die ander twee aspekte foutief reageer of miskien glad nie.  ‘n Goeie senario is, twee mense het ‘n meningsverskil.  Die “Dinkertjie” dink wat hy moet sê om die argument te laat draai in sy voordeel.  As die “Dinkertjie” optimaal ontwikkel is, sal hy dink hoe om die situasie te ontlont sodat dit ‘n wen-wen situasie is.  Die “Wetertjie” weet dat elke situasie kan opgelos word en wag vir instruksies van die “Dinkertjie” sodat hy kan weet wat hy moet doen. 

Ongelukkig in konflik wil dit vir my voorkom dat daar ‘n kortsluiting plaasvind wanneer die temperature styg.  Dit is wanneer die sogenaamde “Nood prosedure” in tree.  Dit staan bekend in as “Stupid”.  Stupid laat mens aggresief optree en miskien vuiste laat swaai of self aaklige dinge sê. 

Maar "Stupid" stop nie daar nie.  Partykeer is dit net bloot as gevolg van afwesigheid van die “Dinkertjie” en die “Wetertjie”.  ‘n Goeie voorbeeld is wanneer die persoon so ‘n grys kyk in sy oe kry en iets sê soos “Dink jy nie dis tyd om gewig te verloor nie?” of wanneer jy “Ja” antwoord as iemand vra of hulle vet lyk. 

Die bogenoemde situasie is eintlik ‘n tragiese geval, want die persoon het ‘n defek in sy hardeware.  Meestal moet die persoon gaan vir herstelwerk en dit gaan gepaard met ure se stilte en ysige glure.  Wanneer die defek regtig erg is moet klank terapie gebruik word van uiterse hoë desibelle.  In mees ekstreme gevalle word die defek herstel met water wat aaneenlopend uit die hersteller se oë loop.

“Stupid” het ongelukkig ook ‘n skadukant.  Indien daar nie aanhoudend opgedateer en gewerk word aan die “Dinkertjie en Wetertjie” nie, sit dit af.   MORS –AF.  Dit is amper soos ‘n virus wat die liggaam betree en die stelsel oorneem.  Hierdie virus blyk hoogs aansteeklik vir mense wie se stelsel reeds foutief is en “default” programme van norme en waardes baie vêr wegbêre is.  Die Skadukant van “Stupid” word ook soms geaktiveer deur substanse soos alkohol en dwelms.  Meestal is dit wanneer mense regtige onverantwoordelike dinge aanvang ( daar is ook vlakke van “Stupid“ by betrokke).

Soos studente wat in hul drokenskap besluit om van ‘n brug af te spring in die rivier (en een of ander been breuk) of huis toe bestuur terwyl hul nie eers kan loop nie.  Dit is vlak een van die skadukant “Stupid”. So word die vlakke erger en erger tot mens by,  Rassisme, steel, verkragting, moord en doodslag kom.

Die einde van die storie is so… Oefen jou “Dinkertjie” en jou “Wetertjie” gereeld.  Laat hulle meestal saam werk en moenie net weet wat is reg en dit nie doen nie.  As jy nie weet hoe om iets te doen nie… vind uit.  “Die Internet is MOS Maklik” en vol van inligting.  Begin by Google en YouTube.

Werk aan jou swakpunte en moenie net dit as ‘n verskoning hou nie, byvoorbeeld “ My humeur is kort”…Maak hom dan langer!!!!

 Laaste les:  Moenie “STUPID” wees nie en wees goed vir mekaar.  Ons het so baie om van mekaar te leer en die Skadukant van “Stupid” is nie die plek om te begin nie.

No comments:

Post a Comment